Latest News

Nagmerrie begin by Nona Rosa

Op die tweede dag van die Cape Outback is die bergfietsryers die oggend in Nona Rosa se Boskamp wakker geruk met die klanke van Queen. Dit sou ’n lang dag word, skryf FOURIE KOTZE.

In die eerste skof van die vierdaagse Cape Outback-toer volg die ryers ’n roete van Stilbaai al teen die oewer van die Goukourivier, ongeveer 17 km ver.

Daarna word die Duiwenhoksrivier op ’n kajak oorgesteek. Dit is nogal ’n kuns om reguit te roei met jou spanmaat voor in die kajak wat sy of haar bes probeer om te keer dat jul fietse in die troebel water verdwyn.

Hierna strek die roete in die rigting van die Heidelbergplein en eindig dit ná 103km by die Nona Rosa-boskamp aan die oewer van die Slangrivier.

Die toer se platejoggie is goed opgewarm nadat hy jou vyfuur die volgende oggend met ­Queen se “Bicycle Song” wakker skud.

Dan het jy geen keuse as om uit die slaapsak te rol en jou stywe bene aan die gang te kry nie. Buite is alles nat, en dit raak ’n uitdaging om te besluit wat om aan te trek vir die 81 km en 1550 m se vertikale klim wat voorlê.

Teen 06:50 staan al die fietsryers en bibber in die markiestent met ’n stewige ontbyt reeds agter die blad. Niemand is skielik lus om in die gietende reën op die lyn aan te tree nie.

Met die nodige aanmoediging van Hendrik Lemmer, die toer se aankondiger, uitsaaier en nonsensprater, lui die wegspringklok om presies 07:00, en die volgende vier tot agt uur sal die ryers tot die uiterste beproef word.

Die eerste 20 km van die skof is oor ’n uiters tegniese terrein deur die klowe van die Slangrivier. Die gietende reën het dit nóg meer tegnies gemaak, en dit was onmoontlik om die kort, steil bultjies uit te trap. Die modder wat aan die fietsbande klou, laat jou fiets se gewig met 2 tot 3 kilogram toeneem. As jy eers afgeklim het om tot aan die bopunt van die bult te stoot, was dit omtrent ’n gesukkel om jou skoene weer in die pedale te kry.

Dan was dit maar ’n geval van stop, modder uit die sool van die fietsryskoene krap, opklim en trap tot by die volgende bult.

Ná hierdie uitdagende 20 km het die ryers die Breërivier met opblaasbote oorgesteek en daarna die roete na die oostelike deel van die De Hoop-natuurreservaat ­gevolg.

Deur die reënnewels kon fietsryers die pragtige fynbos, troppe bontebok en tekens van missieltoetse sien as daar nie te veel modder in die oë was nie.

Hierna het die hoogtepunt van die dag gevolg: ’n enkelspoorpaadjie wat deur manjifieke proteaplantasies tot bo-op die berg loop.

Bo gekom, is die ryers beloon met ’n asemrowende uitsig oor die Indiese Oseaan, voordat hulle teen meer as 60 km/h bergaf is om uiteindelik die dag in die Potberg-natuurreservaat af te sluit.

En dis hier waar die drama hom eintlik afgespeel het. Toe die voorste ryers oor die lyn jaag, was Potberg feitlik verlate.

Waar deelnemers gewoonlik tuisgekom het na ’n perfekte tentedorpie, klipharde musiek en Lemmer-stories, was die enigste aanduiding dat daar ’n wedren aan die gang was, die eensame wenpaal.

Leo du Plessis was egter gou by om te verduidelik dat die hele konvooi van voertuie, met inbegrip van die vragmotor wat die ryers se sakke vervoer het, vroegoggend in die modder vasgeval het en slegs met die hulp van ’n vierwiel-aangedrewe trekker uitgesleep kon word.

Vir die ryers was die nagmerrie egter verby: skuiling teen die reën, ’n enorme bord lasagne, sop en koffie het meer as vergoed vir die dag se gure omstandighede

Daarna was dit die gewone roetine: stort, nog iets om te eet, ’n halfuur in die geselskap van ’n fisio­terapeut of sportmasseur, nog iets om te eet, ’n kort middagslapie, nog iets om te eet, aandete, prysuitdeling, nog iets om te eet, tande borsel en slaap. Die laaste twee dae kon toe net baie makliker wees.

* Fourie Kotze is ’n vryskut-skrywer van Stellenbosch.